Die wet van GELOOF
Johannes 11:40 Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
Hebreers 10:35-36 Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.
Ek sit een aand hierdie week in ’n gedenkdiens. Hierdie gedenkdiens was vir een van die mooiste mense wat ek ken. Wat dit nog so merkwaardig maak is die feit dat hierdie persoon deur God gebruik was om sy koningkryk hier op aarde te bou. God het hom ook rentmeester gemaak van ’n pragrige gemeente wat hy met oorgawe bedien het. Hierdie jongman, slegs een en veertig jaar oud, het God kom haal vir verdere diens. ’n Mens besef skielik die betekenis van die teks “’n voorwerp vir besondere gebruik” Op my pad huistoe het Johannes 11:40 hier in my gedagte gemaal en ek het opnuut weer hierdie besondere mens waardeer en met dankbaarheid my oë opgehef en God dankie gesê dat Hy oor my pad, so ’n besondere mens gesit het. Hierdie mens het geloof uitgeleef en ander het by hom baie geleer deur onder andere, dit wat hulle gesien het
As ons kyk na God se handeling met die mens dan skree hierdie een stukkie woord, amper soos ’n wet, Johannes 11:40 “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” Dit is amper ’n vinger na al die Tomasse, of na almal wat bid en wonder. Dit laat mens weer opnuut besef dat die vra baie kragtiger is as die doen van mense. Dade wat by berou pas is een ding ............ geloof wat alles heelmaak is iets anders al is albei onontbeerlik. Die kleinste kind of die grootste sondaar wat vertrou op volkome verlossing kry dit, terwyl somtyds die grootste dissipel wat ’n bietjie twyfel het, dit kan misloop. Die gom wat my vasmaak aan Abba Vader, ........ geloof ......... Ek het tot die besef gekom dat geloof nie die venster is nie maar die sonskyn wat die hart verlig. Dit is nie die geopende hand nie maar die gawe daarin. Dit is nie die pyp nie maar die water daarin.......... so werk die wet van geloof (Amper soos swaartekrag) Dit is dus nie my eie geloof nie maar Christus in my hart, wat my suiwer en vasmaak aan die ewigheid. Matteus het my hart amper toegedruk toe ek die volgende teks lees: Matteus 13:58 “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.”
Ons moet besef dat ons op grond staan wat aan God behoort. Ons mag dit deur ongeloof verloor het maar ons kan dit deur geloof terugneem. Ons het die reg om dit terug te neem. Die neem vereis my volle oorgawe. Hierdie oorgawe moet meer intens wees as die teenkanting. Satan is ’n gedugte vyand en gee nie maklik prys nie. Moet nie vir een oomblik dink hierdie vuilbaard sal onderhandel en kompromie met jou sluit nie. Hy is die outeur van die leun. Gebed moet volhardend wees wat die neem so volhardend maak as die vyand se hardnekkigheid om dit terug te gee, en dan ...... nog ‘n bietjie meer. DIT IS HIER WAAR DIE GEVEG BEGIN.
Johannes 11:40 Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
Friday, November 14, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment