Sunday, November 30, 2008

DIEN NÉT DIE HERE
Waarom wil ons dit so ingewikkeld maak? Waarom wil ons die antwoord so ver gaan soek, terwyl dit so eenvoudig en voor die handliggend is? Maak 'n studie vir jouself van die konings van Juda (Suidelike Ryk) en die tyd waarin hulle regeer het, dan is dit baie duidelik; die tydperk wat hulle God gedien het, was 'n tyd van voorspoed vir die Israeliete. Hulle het God se hulp en ondersteuning en beskerming telkens geniet. Maar sou daardie selfde koning later afvallig word, het dit met hulle begin sleg gaan. So, wat sê dit vir jou ...? Dien nét die Here! Wanneer daar 'n goddelose koning aan bewind was; het dit met hom en die volk oorwegend sleg gegaan. Die vyandelike nasies het hulle aangeval en hulle verslaaf. Daar was oproer en onbestendigheid. Op die ou end sterf die slegte koning dikwels 'n vroegtydige dood weens 'n ongeluk, oorlog, siekte of selfs 'n komplot teen hom. In 2 Kron. 14:2 lees ons bv. van koning Asa, 'n goeie koning: "En Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van die Here Sy God (nie eie oë)." Dan lees ons van Serag die Kusitiese koning wat teen Asa uittrek met 'n miljoen soldate! Asa se leër het slegs 580 000 getel (vers 8). Maar kyk nou wat doen die koning van Juda. 2 Kron. 14:11 - "En Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: Here, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, Here onse God, want op U steun ons." En die gevolge (vers 12): "En die Here het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug." Is dit nie wonderlik nie! So maklik, so eenvoudig! Wat 'n droom vir elke land, gesin, besigheid, boerdery en huwelik wanneer hulle uitgangspunt is: Hier dien ons (nét) die Here! Dis prioriteit nommer een! · Stel jou voor die staatshoof van 'n land, doen wat Asa gedoen het toe die moeilikheid hulle bedreig. · In elke huis, roep die vader die Here aan saam met sy vrou en gesin. · In elke besigheid, roep die eienaar saam met sy werkers die Here aan. · Op elke plaas, roep die boer saam met sy werkers die Here aan; nie net in 'n krisis, maar elke dag. En die Here doen vir hulle presies dieselfde. Dien nét die Here! Waarlik dis die moeite werd om die Here te dien!

1 comment: