Monday, November 24, 2008

GEBED VERANDER DIE BIDDER
2 Kor. 3:18 - "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is."
Een van die groot waarhede wat ek deur die jare geleer het wat gebed betref, is nl. dat gebed verander die bidder. Deur gebed is die bidder op 'n spesiale manier verbind met die Here en ervaar 'n mens 'n spesiale teenwoordigheid van die Here wat andersins nie daar is nie. Wanneer ander dan kom met hulle gebedsversoeke en jy vir hulle intree, smaak jy net soveel voordeel, want in Sy teenwoordigheid is daar besig om te gebeur wat ons lees in 2 Kor. 3:18 - "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." Hierdie vers sê dit duidelik; jy word soos die Een wat jy aanbid. Die meeste geestelik groei wat iemand kan ervaar, is dus op sy knieë (of enige posisie), besig om tot God te bid!
Gebed is nie beperk tot die Woensdagaand se biduur of tot jou persoonlike afsonderings tye in die privaatheid van jou binnekamer nie. Die Bybel moedig ons juis aan (1 Thess. 5:17): "Bid sonder ophou." Dus, my persoonlike ideaal is om voortdurend in 'n staat te wees waar ek in gesprek, biddende, dankseggende en lofprysende tot God verkeer. Toe my kinders nog klein was, was daar sekere dinge, wat ek net nie aan hulle kon toevertrou nie. Hulle kon dit nog nie hanteer het nie en sou hulleself daarmee verongeluk. Ek kon bv. nie die motor se sleutels vir hulle gee om 'n draai te gaan ry nie. Vandag is al drie my kinders uitstekende motor bestuurders en sal ek hulle enige tyd met my motor vertrou. En so is daar seker dinge op hierdie stadium van jou lewe wat God net nie aan jou kan toevertrou nie; al vra jy dit naarstiglik elke dag, omdat jy dit nog nie kan hanteer nie. Mag ek sê: Ons het nog nie genoeg gebid nie. Ons moet nog eers meer deur gebed in God se teenwoordigheid verander word, sodat ons op daardie plek kan kom dat God jou met daardie dinge in jou lewe kan vertrou. Hou dus op om te bid vir daardie wonders en tekens wat jy so graag wil doen. Kom maar net eers deur gebedswandel op daardie plek dat God onverhinderd deur jou kan vloei en die wonderwerke sal spontaan gebeur.

No comments:

Post a Comment